Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 18 SEPTEMBER 2011

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Let asseblief op: Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.
Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

STIL SLEUTEL

Dit is met leedwese dat aangekondig moet word dat die sleutel van Theo Mcdulling, ZS1JM, op die 2de September 2011 in die ouderdom van 77 jaar stil geraak het.

Ons innige simpatie gaan aan die familie en vriende van Theo.

(POUSE)

In die nuus vandag:

SARL RADIOTEGNOLOGIE-IN-AKSIE KOMENDE SATERDAG IN GAUTENG

SARL GEE TERUGVOERING AAN OKOSA

INTERESSANTE BOEK VIR AMATEURS IN WOONSTELLE EN INGEHOKTE GEMEENSKAPPE

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

SARL RADIOTEGNOLOGIE-IN-AKSIE KOMENDE SATERDAG IN GAUTENG

Die 2011 Radiotegnologie-in-Aksie-simposium sal eerskomende Saterdag 24 September in die Nasionale Amateurradiosentrum en in Sentech se ouditorium aangebied word. Die program sluit interessante aanbiedings en besprekings in. Daar is ook goeie pryse te wen deur slegs die simposium by te woon. Toegang is R60 p.p. wat verversings en ’n vingerete insluit. Toegang is gratis vir studente en skoliere wat vooraf bespreek.

Die SARL se Visepresident, Mark Zank, ZS6YES, sal, met die nasionale erfenisdag in gedagte, praat oor die erfenis van amateurradio en waarheen volgende. In die paneelbespreking sal dit gaan oor “wat, indien ons n gevorderde amateurradiolisensie in Suid-Afrika het, en hoe moet dit lyk”? Voorsitters van radioklubs in Gauteng is uitgenooi om aan die debat deel te neem.

John Willescroft sal praat oor FPGA’s en Hannes Coetzee sal praat oor Programmatuurradio in amateurradio. Hannes sal dit prakties benader en sy ontwerp, wat die innovasiekompetisie gewen het, demonstreer.

Volle besonderhede sal hierdie op www.sarl.org.za beskikbaar wees.

TWEEDE BEEN VAN DIE SARL BHF/UHF-KOMPETISIE HIERDIE NAWEEK

Die tweede been van die SARL se BHF/UHF-kompetisie is nog goed op dreef. Daar is nog ’n aantal ure oor vir kontakte met stasies in skaars ruitverwysings.

BHF/UHF-kompetisies behoort die toets te wees vir operateurbehendigheid en stasie-ontwerp maar die belangrikste mikpunt is om vir die naweek weg te kom en dit te geniet. Die volgende belangrike is om aktiwiteit op BHF/UHF- en mikrogolfbande aan te moedig en om amateurs aan te moedig om langer afstande as gewoonlik te bereik deur draagbaar te werk en/of antennastelsels te verbeter en deur geleenthede te skep om nuwe ruitverwysings te werk of te aktiveer. Kyk ook uit vir 7P8EME wat in Lesotho aktief is.

SARL GEE TERUGVOERING AAN OKOSA

Gedurende die afgelope week het die SARL oor ’n aantal aangeleenthede terugvoering aan OKOSA verskaf o.a. die minimum ouderdom vir die Klas B lisensie en ontvangers met deurlopende instemming. Die SARL is van mening dat daar geen minimum ouderdom moet wees vir persone wat ’n radioamateur wil word nie op voorwaarde dat hulle die toepaslike eksamen en ooreenstemmende praktiese toets slaag. Die SARL het ’n voorstel aan OKOSA voorgelê oor hoe die regulasie oor ontvangers met deurlopende instemming verander kan word ten einde aan die vereistes van radioamateurs te voldoen. Die SARL het ook die geleentheid gehad om die frekwensietoekennings aan radioamateurs in die tabel van spektrumtoekennings, wat nou vir publikasie in die Staatskoerant gereed is, na te gaan.

INTERESSANTE BOEK VIR AMATEURS IN WOONSTELLE EN INGEHOKTE GEMEENSKAPPE

Die ARRL het ’n interessante nuwe boek getiteld ““Small antennas for small spaces” gepubliseer. Dit is ’n waardevolle bron vir amateurs wat in deelhuise, deelblokke of huise op klein erwe woon. Gevul met praktiese raad, lei hierdie boek jou na die regte antenna wat ontwerp is om in te pas in die ruimte wat jy beskikbaar het. In die boek sal jy idees en projekte vind om jou op die lug te kry ongeag waar jy woon! Die boek sluit ’n versameling van idees van welbekende amateurs in aangaande antennas vir beperkte ruimtes, insluitende die geïnnoveerde, gevoude, skelethulsdipoolantenna vir 20 en 40 m deur QST se tegniese direkteur Joel Hallas, W1ZR.

Die boek is in Suid-Afrika beskikbaar by die SA Amateurradio-ontwikkelingstrust teen R300 plus R30 vir verpakking en posgeld. Vir meer besonderhede aangaande hierdie en ander boeke, besoek www.amateurradio.org.za/books.htm.

7P8EME EKSPEDISIE BEFONDSING

Die SARL se 7P8EME DXpedisie benodig steeds befondsing. Die mikpunt is R10 000, maar tot dusvêr is slegs R5 200 geskenk. Gaan na www.amateurradio.org.za/7P8.htm vir besonderhede. Onthou asb. om ’n e-pos aan artoday@sarl.org.za te stuur sodat u bydrae erken kan word.

BEPLAN U OM DIE RAE OP 21 OKTOBER AF TE LÊ?

RAE-studente word herinner dat die sluitingsdatum vir inskrywing vir die radioamateureksamen op 21 Oktober die 25ste September is. Geen laat inskrywings sal aanvaar word nie. Die vorms wat voltooi is beskikbaar op www.sarl.org.za, of volg die skakel “SARL Today”-nuusitem op die tuisblad.

SARL SE LEDETAL BYNA BY DIE 1 300 MERK

Die ledetal van die SARL het verlede Vrydag op 1 272 gestaan en ons vertrou dat die 1 300-merk gedurende die komende week verbygesteek gaan word.

Indien u nognie u lidmaatskap hernu het nie, daar is nog net ’n paar dae oor voordat jou lidmaatskapvoorregte sal eindig. Betaal per tjek, bankdeposito of elektroniese oorplasing. Besonderhede is op die rekening wat u ontvang het, of, skakel Mariska by 011 675 2393.

BENODIG U ’n QSL-ROETE?

Hier is ’n adres vir verskeie gratis webtuistes vir QSL-roetes vir jou en jou vriende − http://www.dailydx.com/routes.html.

K2TQC, Bill Gibbons, rapporteer dat hy ’n QSO nagespeur het en uiteindelik ’n QSL verkry vir ’n QSO in Augustus 1961 met Nederlands Nieu Guineë, wat op 30 April 1968 uit die DXCC-lys uitgevee is. Die operateur was Joop Hesp, nou ZS6C. Dit was land No 383 vir K2TQC.

JD’s AAN DIE GANG

Heather, ZS6YE, het met ‘n JD groep begin. Sy stuur elke maand ‘n nuusbrief met interessante nuus en gebeure aan JD’s uit. Daar is ook ‘n “Ham YL’s profile” op Facebook geskep. Al die JD’s en XJD’s word uitgenooi om deel te wees van die groep. Daar is alreeds ‘n aantal internasionale JD’s wat deel is van die groep. Kontak Heather, haar e-posadres is ylgroupsa@yahoo.com of vir Anette by adres zr6delta@gmail.com en plaas u naam op die e-poslys. Alle JD’s en XJD’s is welkom om enige interessante nuus vir insluiting in die nuusbrief in te stuur. Die groep sien daarna uit om met nog JD’s kontak te maak.

VOLG ’n VOETSLAANGROEP

’n Groep stappers begin op 26 Sept met ‘n 12-dag staptog in die Drakensberge vanaf Mount Aux Sauces tot by Boesmansnek.

Amateurradio gaan vir kommunikasie gebruik word en dus is is Johan Leslie, ZR4CAA, ’n lid van die groep. Die basiskamp word beman deur nog ‘n amateur nl. John Longland, ZS6AA. Daar sal gebruik gemaak word van 40 m en 80 m en ook 2 m.

Vir geruime tyd is daar al toetse met kommunikasieprosedures gedoen en hierdie prosedures sal teen Maandag op die webwerf www.crossroadsadventure.co.za verskyn. Die prosedures is daarop gemik om baie kompakte kommunikasie tussen die groep en basiskamp op geskeduleerde tye te bewerkstellig en amateurs word gevra om vir die twee roepseine op die uitkyk te wees en hulp te verleen indien daar ‘n noodsituasie blyk te wees deur die prosedures te volg wat op die webwerf sal verskyn.

“Ragchews” met die groep sal nie moontlik wees nie as gevolg van beperkte batterykrag, maar ‘n sessie word tydens die halfwegstop beplan.

KLUBNUUS

Die Centurion Radioamateurklub gaan weer op Sondagaande om 19:30 vanaf vanaand begin met tegniese besprekings op hulle 2 m-herhaler op 145,775 MHz.

Vanaand sal Pine, ZS6GST, oor ’n minder bekende aspek van HF-voortplanting nl. Magneto-ioniese gate, praat en ook ’n tong-in-die-kies-storie vertel.

Almal wat binne bereik van die herhaler is, kom luister asb. saam en rapporteer ook in indien moontlik.

Daar sal nie besprekings wees op die aande wat Integnet plaasvind nie.

MAGALIES KLUBKOMITEE

Gedurende die AJV wat op 10 September plaasgevind het, is die nuwe komitee vir Magalies Radioamateurklub vir die tydperk 2011 – 2012 as volg verkies:

Voorsitter: Thys Maré, ZS6MJM
Visevoorsitter: Johann du Plessis, ZSZ6PSS
Sekretaresse: Anette Jacobs, ZS6D
Tesourier: Louis Mitchell, ZS6LWM
Tegniese adviseur: Sam van Zyl, ZS6JZ
Digitaal: Hannes Enslin, ZS6JDE
Teenspanning: Marco Nel, ZS6MJ
Sosiaal: Gordon Forbes, ZS6FI
Openbare skakelbeampte: Chris Smit, ZS6FCS
Jeugkoördineerder: Johann du Plessis, ZS6PSS
Kompetisiebestuurder Quartus de Witt, ZS6EE.

Die uittredende komitee bedank al MRK se lede vir hulle ondersteuning gedurende die afgelope jaar en wens die nuwe komitee sterkte toe vir die komende jaar se aktiwiteite.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat sonvlekgroep 1 295-1 296 se grootte sedert die 14de September verdubbel het en die hoeveelheid sonvlekke het viervoudig toegeneem. Verder word daar gereeld C-klas fakkels geproduseer. 'n Nuwe sonvlek is ook besig om op die Suid-oostelike gedeelte van die son te vorm en die sonaktiwiteit kan gedurende die week verder toeneem. Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings doen, is die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week ongeveer 92, 'n nuwe hoogtepunt vir hierdie siklus.

20 tot 15 m kan goeie DX-resultate oplewer en daar gaan ook opwindende 10 m-openinge wees as gevolg van die verhoogde sonaktiwiteit.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

Maak nog ’n geldelike bydrae aan die 7P8EME DXpedisie wat tot 26 September plaasvind.
18 September - Laaste dag vir insending van logstate vir die JVT se jeugsnelkompetisie. Daar het nog min state ingekom, stuur dus u logstaat so spoedig moontlik.
18 September – Vanaand, om 19:30 Centurionklub se tegniese praatjie op 145,775 MHz. in Pretoria.
23 September – Neem jou handdraagstel vandag saam werktoe.
24 September – RTA in Gauteng.
25 September – Laaste dag vir inskrywing vir die RAE in Oktober.
25 September – Integnet om 19:30.
26 Sept/7 Okt – ZR4CAA en ZS6AA op die lug met die Drakensberg-stapgroep.
15/16 Oktober – “Jamboree on the air”.
Tot 31 Oktober – ZL-stasies met ZM-voorvoegsels en ZL4RUGBY en ZL6RWC op die lug.

SARLNUUS nooi klubs en individue om nuusbrokkies wat radioamateurs en kortgolfluisteraars sal geniet, in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateurradio VANDAG wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 750 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio TODAY', gaan af op die groen kolom en klik op 'LISTEN ON THE WEB'. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 18:30 SAT op 3 230 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur George, ZS6NE.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Ten einde u inskrywing op hierdie subskripsielys te verander of dit daarvan te verwyder, gaan na www.sarl.org.za/members/admin/maildat.asp.


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003